Jy is nie ingeteken nie - Teken in of registreer

Blogs

Die gesig van Trauma

Gepubliseer: Dinsdag, 2014/03/18

Môre julle. Hoe was jul Maandag? Almal gesond en reg vir vandag?

Die een ding van Trauma is dat niemand kan jou help nie. Ek kan nie slaap nie. Ek sien heeltyd die man op my afstorm, na my point asof hy 'n gun het en demands maak, begin gryp aan my sak en my slaan. 

Een ding kan ek met sekerheid sê as hy 'n mes uitgeruk het dan was ek dood as ek meet aan die pyn in my gesig, oral op my kop, bolyf, rug en my sy. 

Ek moes gister vir 'n Tetanus-shot gaan. Ek weet nie waarmee die ou my in my gesig stukkend gekrap het nie. En dit is nóg pyn bo-op die pyn wat ek alreeds ervaar. 

Die dokters by MediClinic het nie eers my wond ontsmet nie. Ek was nie eers antibiotika gegee nie. En die ergste van als is dat hulle nie eers vir my gevra het oor die MIV-toets nie. Hoeveel ander mense het die man al aangerand? Gekrap? 

Dit is skokkend. Hoe verwag dokters dat jy ná jou trauma aan als moet dink? En dit is die dokters wat na my omgesien het en ek het mediese fonds. 

Ek is kwaad want my lewe is ontwrig, my kinders is getraumatiseerd en bang elke keer as ek buite hulle sig verdwyn. Hulle assosieer die trein met geweld en pyn. Want hulle ma was op die trein toe sy so seergemaak is. My oudste seun, Lucas (6) wil net die man gaan vind wat sy ma geslaan het en praat van hy wil hom skiet en stab. My jongste vra weer heeltyd wanneer gee hulle mammie se phone terug?

En julle elke keer as ek terugdink aan daai oomblikke besef ek dat ek dood kon gewees het. Nóg een van Metrorail se annual stats van insidente. Pendelaars wat vermoor was op die trein. 

Maar wat my die horries gee is dat daardie mans alweer op die trein is, besig om ander mense uit te pick om te beroof. So baie swanger vroue vat die trein, vroue met babas en kinders en is hulle veilig Metrorail? 

Gister het EyweWitness News my gebel en wou weet wat ek gaan doen. Ek het vir Kfm laat weet dat ek gaan 'n eis insit teen Metrorail. Jip, dit is wat ek gaan doen. Hulle doen klaar niks wanneer mense met klippe deur die vensters gegeooi word nie. Wat gaan hulle nou doen aangesien ek op die trein aangeval was?

Ek betaal dan amper R300 per maand sodat ek aangerand en amper verkrag kan word? Ek het al voorheen in 3rde Klas gery, maar dit is so vol dat die mense in jou sakke krap en jou beroof nog voor jy jou werksplek bereik het.

My vraag aan Metrorail is, wat as een van die mans my nog verder 'n siekte gegee het? Wat dan? Sover het ek niks van Metrorail gehoor nie en hulle het my adres, kontakbesonderhede by die werk en tuis. 

Hulle het ook 'n afskrif van my geldige kaartjie, want dit was die eerste ding wat hulle wou sien. 

Ek kan nie my aan my gesig vat nie. Ek kan nie my hare kam of my arms oplig nie. Ek kan nie eers my baba optel nie. Weet julle hoe voel dit Metrorail? Om vir my kind te sê ek weet nie wanneer ek hom kan optel nie. Badtyd is nie meer dieselfde nie. As gevolg van Metrofail se laksheid lei my kinders die meeste daaronder. 

Gister by die hospitaal vra die een ou vir my, "Jussus, wie het jou dan só verniel vrou?" en hy het weer klaar in sy mind gedink dit moet seker my boyfriend wees wat dit aan my gedoen het. Ek het dieselfde kyke gekry toe ek by die apteek was om my medisyne te gaan haal. Want ek is 'n bruin vrou en dit kan mos net een explanation wees vir hoekom ek so verniel lyk en in pyn is. 

Ja een luisgat wat nie wil werk nie, het my lewe omgekrap. 

Al wat ek weet, is ek is klaar met Metrorail se treindiens. Maar ek is nie klaar met Metrorail nie. 

Dit was net deur die Here se genade dat ek hier is. Dat ek sterk genoeg was om te skreeu en terug te baklei. 

En ek probeer aangaan met my lewe, doen my werk na die beste van my vermoë want ek love my job. Dit is al wat my aan die gang hou, my mind besig hou. Anders herleef ek heeltyd die treinrit. 

Daai man het my geslaan, my my beroof maar my nie gebreek nie. Hy het my meer vasbeslote gemaak om terug te bakei vir my lewe. 

Hoe lui die gesegde, "You hit a woman, you hit a rock!"

Sterke aan almal wat een of ander trauma oorleef het. Sterkte aan almal wat nog daagliks die trein moet vat en bid en pleit dat hulle die werk haal en vanaand weer hul gesin kan sien. 

Sterkte aan almal wat steeds werk soek en die pot aan die gang hou. 

Mens besig nie aldag hoe sterk jy is nie, tot jy vir jou lewe moet veg nie. Moenie jouself onderskat en jouself nie goed genoeg ag nie. 

Die lewe kan mens platslaan, maar mens moet opstaan. En weer probeer. 

As ek dit kan doen, kan jy ook. 

Groete uit die Kaap van Goede Hoop. 

Onthou om Son Koerant op Facebook te Like en @Sonkoerant op Twitter te volg. 

Die Son-Vrou!-) 

 

 

Deur: Janice.B.Johannes
Foto: VERSKAF

Kyk na kommentaar Voeg kommentaar by